Stout kinders: Uit die mond van die suigeling
- M van Zyl
- Jan 9, 2025
- 4 min read
Kyk, hierdie is ’n koppie koffie of tee-oomblik, want jy gaan verseker hierna ’n opinie wil deel met iemand. Jy gaan wil saamstem of dalk stry, maar praat sal jy beslis wil praat, want om oor stout kinders te gesels, voel soms soos om op eiers te loop. So, skink daardie koppie troos, kry ’n praatmaat nader, en geniet die gesprek.
In ons grootworddae het ons dikwels gehoor: “Uit die mond van die suigeling en die dronkaard sal die waarheid kom.” Vandag hoef die suigelinge niks te sê nie; jy sien sommer die waarheid van wat in huishoudings aangaan in hul gedrag. Hoeveel respek en dissipline daar is, en hoeveel aandag ’n kind van sy ouers ontvang, word duidelik deur hul optrede.
Dit is Sondag, die kerkklok lui en die dorp se honde huil almal tegelyk – dalk omdat hulle die toekoms van die stout kinders van die Brink-gesin betreur. Verlede Sondag het hul jongste, net agt jaar oud, sy gekoude chappie in die kollektebord gegooi. Toe sy ma groot-oog dit probeer uitkry, het sy dit eers behoorlik van die R100-noot afgetrek wat saam in die bord beland het. Daar was ook die Sondag wat een van die Brink kindertjies toeilet toe wou gaan maar het oppad daarheen die kerkklok se tou raak gesien en die begin lui, daai klok het aanhou lui tot een van die ouderlinge gaan ondersoek instel het en die enetjie al swaaiend aan die tou moet afhaal, nodeloos om te vertel, die se pa was toe al ook buite want hy het reeds met die eerste lui geweet dit is sy kind. Almal het al hulle kans gevat, selfs die sussie het eendag terwyl sy aan 'n pak jellie babies peusel (haar ma se poging dat sussie moet stilsit en stilbly) klip hard aangekondig: "Vandag vrek jy ! Kyk mamma ek het sy kop afgebyt"
Hierdie Sondag sal die sirkus waarskynlik voortgaan. Die drie kinders mis nooit ’n kans om die rol van onaangename narre in die dorp te speel nie. Sonder die volledige konteks sou ons dalk simpatie hê vir die ouers, maar hul reaksie op die kinders se gedrag bied geen hoop vir ’n oplossing nie. Daarom gaan my simpatie eerder na die gemeenskap – en na die arme predikant wat Sondag na Sondag moet aankondig dat daar ’n moederskamer is vir woelige kinders.
Volwassenes maak deesdae te veel verskonings vir ongemanierde kinders. Hulle skep trots oor ouerskapkursusse wat hulle bygewoon het – meestal net een ouer – en volg dit op met verskonings vir kinders se gedrag: “Hulle is moeg,” “Dis ’n lang dag,” of “Hulle is uit hul roetine.”
Stop dit net. Jy weet as jou kind onaanvaarbaar optree. Mense skuif van hul gewone sitplekke in die kerk weg, jou gasvrou stel een van haar kinders aan om jou kind besig te hou direk ná die groet, en honde word toegesluit as jy kom kuier. Jy kan nie verwag dat onderwysers of ander instellings jou kinders se gedrag moet regmaak terwyl jy tuis nalaat om grense te stel nie. Jou “ja” moet jou “ja” wees, en jou “nee” jou “nee.”
Die grootste probleem met kinders wat geen respek vir ouers het nie, is dat hulle later geen respek vir onderwysers, gades, of werkgewers sal hê nie – en uiteindelik ook nie vir God nie. As jy bekommerd is oor die dag wat jy jou kinders moet agterlaat, dink ’n oomblik aan hoe dit sal wees om hulle vir ewig te verloor.
Begin vroeg. Praat op hul vlak, kyk hulle in die oë, en wees duidelik oor watter gedrag aanvaarbaar is en watter nie. Moet ook nie dreig sonder om jou woorde gestand te doen nie. Kinders moet leer dat reëls belangrik is en dat oortredings gevolge inhou.
Hou ook op om kinders te slaan. As ons hulle alles leer wat nodig is vir die lewe, wat leer ons hulle oor die plek van fisiese geweld as hulle groot is? Laat verskonings sinvol wees, met erkenning van die skade wat hul gedrag veroorsaak het. Moet ook nie stoutheid snaaks vind waar dit verkeerde aandag versterk nie.
Ek onthou ’n keer toe kinders buite lawaai het tydens ’n kerksaal-funksie. Toe niemand hulle stilmaak nie, het ek opgestaan en dit self gedoen. Respek by sulke geleenthede moet van ouers af kom. As ons kinders nie leer wat goeie maniere is nie, sal hulle nie respek vir ander ontwikkel nie.
Ons moet besef dat toegang tot die samelewing en sy voordele ’n voorreg is, nie ’n reg nie. Elke ouer het die verantwoordelikheid om kinders groot te maak wat hul deel doen om ander te respekteer. ’n Generasie sonder respek is nie net ’n las vir ander nie – dit sal ons almal tref, veral wanneer ons ouer word.
So, wees ’n lekker mens en help om lekker mense groot te maak. Dalk kan ons dan ’n samelewing bou waar almal respek het vir hulself en vir ander.
Kyk uit vir die opvolg: Die besige kind, die stout kind, en die ongemanierde kind.
Foto krediet : rawpixel.com