Mensdom - November 2025
- Handré Laubscher

- Nov 1, 2025
- 1 min read
Ons noem onsself mensdom, asof daar iets edel daarin lê . ’n Groot familie van denke en gevoel, van siel en stof. Maar party dae voel dit minder soos ’n eer en meer soos ’n soektog sonder rigting. Ons bou, ons breek, ons droom, ons vergeet.
Ons kyk hoe mense aanlyn baklei oor wie reg is, terwyl die wêreld buite nog steeds ruik na reën en stof. Ons probeer sin maak van oorlog, liefde, kuns, en selfoonseine. Soms lyk dit of ons nie meer weet hoe om net mens te wees nie — om stil te sit, om te luister, om te voel sonder om te deel.
Maar êrens in die chaos leef daar nog ’n sagte stukkie van ons oor. Die deel wat huil oor vreemdelinge se pyn, wat lag oor klein goed soos ’n hond wat sy stert jaag. Dis die deel wat wys: ons is nog nie verlore nie.
Miskien is mensdom nie iets om te verstaan nie. Miskien is dit iets om te onthou.
- H. Laubscher, 2025 Net Mens Span



Comments