Die paradoks na die soektog vir geluk
- Handré Laubscher

- Oct 26, 2025
- 1 min read
Ons jaag almal geluk op een of ander manier. Party probeer dit koop in ’n nuwe selfoon, ander soek dit in liefde, erkenning, of die volmaakte foto op sosiale media. Dis amper asof ons almal in ’n resies is om eers gelukkig te wees, asof geluk iets is wat wag aan die einde van ’n pad met ’n groot bord wat sê “Jy het dit gemaak”. Maar hoe meer ons jaag, hoe verder skuif daardie bord.
Die paradoks lê daarin dat geluk nie kom wanneer jy dit direk soek nie. Dis soos water in jou hande – hoe stywer jy probeer vashou, hoe vinniger glip dit weg. Jy vind dit in oomblikke wanneer jy ophou probeer. Wanneer jy koffie drink en die sonlig sien speel op die tafel. Wanneer iemand lag en jy besef jy voel ligter sonder rede.
Miskien is die fout dat ons geluk sien as ’n bestemming, terwyl dit eintlik ’n metgesel is. Iets wat saamstap, nie wag by die eindpunt nie. Dis in die gewone dae, tussen wasgoed ophang en laatmiddaglig, dat ons dit soms onverwags raakloop.
Geluk het min te doen met groot oomblikke. Dis nie die afmerk van ’n droomlys nie, dis die asemhaal in stilte ná ’n lang dag. Dis die wete dat jy nog hier is, nog probeer, nog mens is. En dalk is dit die grootste paradoks van almal – dat die dag wanneer jy ophou jaag, die dag is wanneer jy uiteindelik werklik begin leef? Net miskien...
- H. Laubscher, 2025







Comments