Die geboorte van 'n tuin
- M van Zyl

- Jan 5, 2025
- 2 min read
Daar is 'n oomblik in elkeen se lewe wanneer ons stop, asem skep, en ‘n eenvoudige blom of die prag van ‘n boom bewonder. Vir sommige van ons is ons tuine nie net plekke waar ons tyd deurbring nie, maar heiligdomme—’n tasbare bewys van ons geloof in die toekoms. Dit is plekke waar ons onsself herinner dat ons drome, sowel as dié van ons nageslagte, wortel kan skiet, groei en uiteindelik blom. Die pad na so 'n tuin is egter nie altyd eenvoudig nie. Ons s’n was beslis nie. Dit was ‘n storie van hardwerk, deursettingsvermoë, en soms, klein wonderwerke.
Tydens die inperking van die COVID-19-pandemie het ons die terugkeer van die natuur na ons dorpe gesien. Die konstante gejaag van motors het stil geword, en skielik was daar plek vir die sagte geluide van voëllewe en ‘n stilte wat allesomvattend was. Daardie kalmte het iets in ons wakker gemaak—’n hernude verlange na eenvoud en die wonder van die natuur.
Ons besluit om ‘n 1,600 vierkante meter groot, oorgroeide stuk grond in ‘n lushof te omskep, was ‘n daad van moed en hoop. Met geen professionele hulp nie, het my man die taak alleen aangepak—met net sy geduld, uithouvermoë, trekker en tuingereedskap. Week ná week het hy gewerk, en uiteindelik, ná 180 ton se vullis, het ons die grond kaal en skoon voor ons sien lê. Elke uitheemse plant moes plek maak vir ons visie, en met elke stukkie vordering het ons nader aan ons droom beweeg.
Na die laaste trok tuinvullig weg is, het ons op ons opslaankampstoele gesit, met ‘n koppie koffie in die hand, en gestaar na die “niks” wat voor ons was. Maar daardie niks het vir ons soveel beteken. Dit was vol potensiaal, ‘n leë doek waarop ons, ons drome kon verf. Ons het besef: selfs te midde van ‘n pandemie kan ons iets bou wat sterker is as vrees—hoop.
Met die jare het ons tuin begin leef. Klein steggies uit vriende se tuine het wortel geskiet, plante wat ons op sypaadjies gevind het, het ‘n nuwe tuiste gevind, en selfs aanlyn gekoopte daglelies het ‘n pragtige verrassing gebring wanneer hulle vir die eerste keer geblom het. Elke nuwe blom het ons herinner aan die vreugde van groei en aan die geduld wat nodig is om skoonheid te laat ontstaan. Vanuit ons kombuisvenster het ons die geboorte van baie steggies se wortels beleef, die eerste tekens dat hulle sal deel word van ons tuin verhaal.
Die tuin het 'n toevlugsoord geword, nie net vir ons nie, maar ook vir die natuurlewe. Bye, skoenlappers, houtkappers, hadedas, en selfs 'n bosloerie het hul plek in die tuin gevind. Hier leef katte, honde, mense en natuur in harmonie—’n lewe waar ons mekaar gereeld iets leer.
Ons tuin is meer as net ‘n ruimte; dit is ‘n herinnering dat selfs in moeilike tye, moet bou, droom, en hoop. Mag jy ook geïnspireer word deur hierdie reis van transformasie. Welkom by ons avontuur. Kom groei gerus saam.












Wonderlik.😁